Trudie Grovè-Morgan, DA-wetgewerlid in Mpumalanga, het in ’n verklaring gesê dat die DA aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) geskryf het om hulle te versoek om die gehalte van die drinkwater in Mpumalanga te ondersoek. Dít volg nadat ’n verdoemende verslag aan die lig gebring het dat die water wat by die meeste krane in die provinsie uitkom, te gevaarlik vir menslike gebruik is.
Gedurende 2021 is 17 waterdiensowerhede en 112 watervoorsieningstelsels in Mpumalanga beoordeel. In die 2022 Bloudruppel-vorderingsverslag oor chemiese en mikrobiologies voldoening, het die volgende aan die lig gekom:
- 71% van watervoorsieningstelsels in Mpumalanga het nie aan sy chemiese bepalings voldoen nie. Die verslag het bevind dat die teenwoordigheid van chemikalieë in die provinsie se water ’n onmiddellike of langtermyn gesondheidsrisiko kan inhou vir diegene wat die geaffekteerde water drink.
- 56% van watervoorsieningstelsels voldoen nie aan mikrobiologiese bepalings nie. Dit dui op mikrobiologiese mislukkings wat ’n ernstige gesondheidsrisiko vir verbruikers inhou. Die verslag gaan selfs verder om daarop te let dat die mikrobiologiese bepalings – veral die teenwoordigheid van E.coli en fekale kolivorme – ’n sterk aanduiding toon van onlangse riool- of diere-afval kontaminasie. Daar is ’n sterk moontlikheid om siektes hieruit op te doen.
- Daar word in die Bloudruppel-verslag opgemerk dat in geval van ’n volgehoue mislukking, “kookwaterkennisgewings” uitgereik moet word om verbruikers te beskerm terwyl die hoofoorsaak van die swak watergehalte ondersoek word.
“Gevalle soos hierbo genoem is uiters kommerwekkend aangesien water ’n fundamentele basiese mensereg is en die feit dat ’n meerderheid van ons inwoners op kraanwater staatmaak,” voeg Grovè-Morgan by.
Inwoners wat in baie areas van Mpumalanga woon, het onlangs sosiale media gebruik om hul ontevredenheid uit te spreek oor die voorkoms van die water wat by hul krane uitkom.
“Onlangs het inwoners in die Bosbokrand-munisipaliteit hul ontevredenheid en skok uitgespreek, aangesien die water wat uit die krane gekom het ’n pikswart voorkoms gehad het wat veroorsaak is deur korrosie van die koperpype.”