Gillion Bosman, DA-woordvoerder oor kulturele sake en sport in die Wes-Kaap, sê dat die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap die voorstel van Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, om ’n nasionale simfonieorkes teen R30 miljoen te stig, verwerp.
“Ons glo dat hierdie voorstel streektalent sal benadeel en dat die plan onprakties en duur is,” sê Bosman. “Minister Mthethwe moet ophou geld mors op nuttelose ydelheidsprojekte en die fondse wat aan sy departement toegeken is, belê om die kuns- en kultuursektore op te hef.”
Net weke nadat die minister gepoog het om R22 miljoen aan ’n vlagpaal te bestee, is minister Mthethwa glo daarop ingestel om R30 miljoen te bestee om ’n nasionale orkes sonder enige duidelike rede te skep.
“Dit is nie net ’n verdere voorbeeld van vrugtelose en verkwistende uitgawes van die nasionale regering nie, maar dit kan ook die land se bestaande orkeste, insluitend die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (CPO), skade berokken.”
Die DA glo dat Mthethwa se voorstel plaaslike talente sal stilmaak, aangesien musikante wat in streekorkeste aangestel word in ’n ad hoc-nasionale orkes aangestel sal word. Baie figure in die bedryf het gewaarsku dat die voorgestelde orkes onprakties, duur en nie in staat sal wees om die hele Suid-Afrika te bedien nie. “Die projek het reeds ’n negatiewe reaksie van die bedryf gekry met die CPO wat hul teenkanting teen die voorstel uitgespreek het, en baie in die Suid-Afrikaanse musieksektor wat gewaarsku het dat Mthethwa se voorstel die potensiaal het om die vermoë van streekorkeste om op te voer, uit die weg te ruim.
Gillion Bosman sê: “Ondanks my beste pogings kan ek nie minister Mthethwa se benadering tot hierdie saak verstaan nie. Suid-Afrika is gelukkig genoeg om geseën te word met wonderlike musikante, wat nou gedwing kan word om deel te neem aan ’n projek wat die kulturele sektor skade sal berokken. Dit kom op ’n tyd waarin die regering alles moet doen om die kulturele sektor te help. Die sektor begin nou eers herstel na die onnodige Covid-regulasies wat tot onlangs deur die nasionale regering afgedwing is.”