Die KwaZulu-Natalse Drankowerheid het die lisensie van die Samkelisiwe-taverne en restaurant in Sweetwaters, Pietermaritzburg, waar vier mense na bewering doodgeskiet is, opgeskort.
Die KZN-drankowerheid het Donderdag in ’n verklaring gesê dat dit deur middel van ’n interne ondersoek bevind het dat die Samkelisiwe-taverne die sekuriteitsverpligtinge van sy lisensie-ooreenkoms verbreek het.
’n Verklaring lui: “Die drankowerheid het bevind dat sekuriteitsverpligtinge wat deur die lisensiehouer gemaak is nie nagekom is soos in die aansoekdokumente wat ingedien is nie. Dit het gelei tot die verbreking van die lisensievoorwaardes wat deur die KwaZulu-Natalse Drankowerheid uiteengesit is.”
Altesaam twaalf mense is oor die naweek by die taverne geskiet, waarvan twee mense op die toneel dood verklaar is en die ander twee in die hospitaal dood is. Nog agt mense is na die hospitaal gehaas.
Volgens die drankowerheid is die taverne se lisensie vir ’n tydperk van drie maande opgeskort óf totdat ’n sekuriteitsplan in plek.
Die perseel sal vanaf 14 Julie 2022 gesluit bly.
Twee verdagtes wat aanvanklik in hegtenis geneem is, is later vrygelaat weens ’n gebrek aan bewyse.
Beeldmateriaal van die skietvoorval is wyd op sosiale media versprei.
