Russel Meiring, ER24-kommunikasiebeampte, het in ’n verklaring gesê dat ’n man vanoggend dood is toe sy ligte motorvoertuig in die padversperrings langs die N12 in Benoni vasgery en in ’n meer beland het.
ER24 en verskeie insleepdienste het Donderdag om 06h08 op die toneel aangekom om die voertuig in die meer te vind.
Met hulp van ’n insleepdiens is die voertuig uit die meer gelig.
By nadere ondersoek het mediese personeel ’n man se liggaam in die voertuig gevind.
“Ongelukkig was die man reeds dood,” sê Meiring.
Die presiese besonderhede rondom hierdie voorval is onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.