Solidariteit sal Vrydag 15 Julie voortgaan met die eerste van vele opveilings van Denel se bates. Dit volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar beslag gelê het op dié bates weens Denel se versuim om ingevolge ʼn hofbevel sowat R90 miljoen se skuld aan Solidariteit-lede oor te betaal.
Solidariteit voer aan dat die beslaglegging en opveiling van bates nou die enigste opsie is nadat Denel verskeie ooreenkomste tussen die partye verbreek het.
Volgens Solidariteit moes sommige van die werknemers by Denel vir meer as twee jaar met slegs gedeeltelike of soms geen salarisuitbetalings klaarkom.
Die veiling sal Vrydag 15 Julie 2022 om 10:00 plaasvind by Denel se hoofkantoor, Selbournelaan 368 in Lyttelton, Centurion.