Ghaleb Cachalia, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, het uitgevaar teen President Cyril Ramaphosa se “slim idee” om die stigting van ’n ander staatsonderneming (SOE) voor te stel, oënskynlik om met Eskom se monopolie te “kompeteer”.
“Hierdie aankondiging bewys bo enige twyfel dat Ramaphosa se regering heeltemal uit voeling met die werklikheid is en geen idee het wat gedoen moet word om die elektrisiteitskrisis aan te spreek nie,” sê Cachalia.
AfriNuus het vroeër berig dat president Cyril Ramaphosa Vrydag bevestig het dat die regering projekte van stapel gestuur het om nog staatsentiteite te skep om beurtkrag te voorkom.
Cachalia voeg by dat die land sedert Maandag vir Ramaphosa wag om die maatreëls aan te kondig waarin hy moet sê wat die regering sal doen om die elektrisiteitskrisis aan te spreek. “Net toe almal gedink het hy maak gereed om leierskap te toon, stel hy by die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP)-konferensie voor dat die “oplossing” iets is wat die beurtkragkrisis net sal vererger.”
“Suid-Afrikaners gaan deur die ergste beurtkragskedule op rekord en die beste waarmee die president en sy kabinet vorendag kan kom, is sy “Alice in Wonderland”-fantasieë – direk uit ’n Sowjet-era-speelboek,” voeg Cachalia by.
Cachalia voeg by: “In plaas daarvan om die voortslepende krisis aan te spreek, kon Ramaphosa nie ’n geleentheid mis om nog ’n belastingbetaler-gefinansierde SOE te skep wat sy ANC-kamerade maar te bly sal wees om in die hande te kry nie.”
Die DA sê dit verwerp die idee van nog ’n SOE heeltemal.
“Suid-Afrika het ’n dringende oplossing nodig om die energiesektor oop te stel vir onafhanklike kragprodusente en nuwe opwekkingskapasiteit in die kortste moontlike tyd aanboord te kry in ’n poging om die elektrisiteitskrisis aan te spreek,” sluit Cachalia af.