Adv. Anton Alberts, VF Plus se nasionale voorsitter, het in ’n verklaring bevestig dat die VF Plus ’n verslag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien het met bewyse dat die Gautengse LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, die voorval van 11 Februarie 2022 by die Hoërskool Jan Viljoen misbruik het ‘om onnodige rassespanning op te jaag tussen wit en swart skoolgemeenskappe.’
’n Verklaring deur die VF Plus lui verder:
Op 11 Februarie 2022 het konflik onder ’n paar leerders ontstaan wat uitgedy het tot ’n groter skoolwye konflik tussen groter groepe leerders.
Lesufi het gevolglik die MRK versoek om die voorval te ondersoek. Tog het hy direk daarna ongestoord voortgegaan om wit Afrikaanse leerders en gemeenskappe te beskuldig van rassisme nog voordat die ondersoek ’n aanvang geneem het.
Ten spyte van Lesufi se versoek om die MRK te betrek, het hy ná die voorval by die skool aangekom en groot groepe leerders, ouers en toeskouers op verskillende geleenthede toegespreek en uitsprake gemaak wat persone inkrimineer sonder dat enige ondersoek afgehandel is.
Hy het valslik die naam van ’n wit Afrikaanse leerder genoem as synde die persoon wat die oorsaak is van die konflik. Dit blyk ook dat hy op valse gronde van die leerder se familie by die voorval betrek het.
Verder het hy die wit skoolgemeenskap in die breë van rassisme beskuldig.
Dit is interessant dat sy interaksie net met swart leerders geskied het waar hy die wit skoolgemeenskap as rassiste afgemaak het sonder ’n sweempie van bewyse of om te wag vir die uitslag van die MRK se ondersoek.
Die VF Plus het bewyse van al Lesufi se uitsprake in die vorm van videomateriaal.
Die VF Plus het die familie wat deur Lesufi geviktimiseer word, se kant van die saak aangehoor en hulle bygestaan om hul weergawe van gebeure in die vorm van beëdigde verklarings by die MRK in te dien.
Verskeie ander getuies se verklarings is ook ingedien.
Uit hierdie getuienis is dit duidelik dat die voorval wat gelei het tot die rasse-botsing by die skool, veroorsaak is deur leerders wat eenvoudig nie die skool se reëls wou nakom nie en wat geen respek het vir diegene wat die reëls moet toepas nie.
Die oorsprong van die konflik handel eerder oor die gebrek aan dissipline en nie oor rassisme nie. Talle wit en swart leerders wat nie deel van die konflik was nie, het die konflik verdoem en beaam dat rassisme nie betrokke was nie.
Dit is ook baie duidelik dat die Gautengse departement van onderwys geen poging aangewend het om die onderwysers, leerders en ouers voor te berei vir die aard van ’n multikulturele skool waarin leerders van verskillende kulture, tale en sosio-ekonomiese agtergronde saam in dieselfde skool geplaas word nie.
Die breë skoolgemeenskap was aan sy eie lot oorgelaat en noudat dit op ’n konflik uitgeloop het, wil Lesufi skielik rassiste vang en ophang terwyl hy verantwoordelik was om die skool eerder voor te berei vir die nuwe multikulturele omgewing.
Die VF Plus het seker gemaak dat Lesufi se optrede, wat tot die verhoging in spanning tussen die wit en swart skoolgemeenskappe gelei het, onder die aandag van die MRK gekom het.
Lesufi het weereens rasse-spoke opgejaag waar geen bestaan nie en het op dié wyse die skool en sy leerders in gevaar gestel, net soos wat die geval was met die Overvaal Hoërskool-saga.
Die VF Plus sal die familie verder bystaan by die MRK totdat die waarheid seëvier en skadevergoeding aan die geviktimiseerde familie betaal is.
Die VF Plus hou tans die familie se identiteit geheim weens ernstige dreigemente teen hulle wat vererger is deur Lesufi se optrede.