MTN en Telkom het Vrydag bevestig dat die maatskappye samesprekings begin het vir MTN om Telkom te verkry. Dié nuus het Telkom se aandeelprys hoër laat styg.
“Besprekings is in ’n vroeë stadium,” het MTN en Telkom in afsonderlike verklarings wat via die JSE uitgereik is, gesê.
Om ’n ooreenkoms te beklink, kan egter baie moeilik wees. Selfs as dit goedgekeur word, sal dit waarskynlik kom met voorwaardes wat deur reguleerders, insluitend die Mededingingskommissie en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika, gestel word.
Die regering het ’n 40%-belang in Telkom. Die Openbare Beleggingskorporasie – die beleggingsbestuurder vir staatsamptenare se pensioene – besit ’n verdere 14% in Telkom.