Terwyl opposisiepartye ’n beroep op die ANC-regering doen om hande te vat met die private sektor om beurtkrag te voorkom, het die regerende party ’n ander oplossing in gedagte.
President Cyril Ramaphosa het Vrydag in sy toespraak as ANC-leier gesê dat die regering oorweeg om nog ’n staatsentiteit op die been te bring, in ’n poging om beurtkrag stop te sit.
Ramaphosa sê in sy toespraak dat die enigste manier om ’n nasionale ineenstorting te keer, is om meer staatsentiteite op die been te bring wat die land van krag kan voorsien. Ramaphosa stel voor dat die drie aparte staatsentiteite op die been gebring word: generasie, verspreiding en transmissie.
Ramaphosa sê dat Suid-Afrika in China se voetspoor moet volg om die 15 jaar lange energiekrisis te voorkom.
“Eskom werk al vir meer as 100 jaar as ’n monopolie. Om een maatskappy te hê wat die rol opneem om energie aan die hele land te verskaf, hou ’n groot risiko in. As Eskom misluk, word die hele land in duister gelaat,” sê Ramaphosa in sy toespraak. “China het ’n aantal staatsbeheerde kragverskaffers wat onder mekaar meeding om te verseker dat die prys van elektrisiteit aansienlik verlaag word.”
Ramaphosa voeg by dat Gwede Mantashe, die minister van minerale bronne en energie, die voorstel aan hom genoem het wat “nie ’n slegte idee is nie”.
Die prosesse is reeds begin om die projekte van stapel te stuur.
Kyk gerus die toespraak: