’n Eskom-veiligheidswag is vroeër die week geskiet en gewond terwyl hy tegnici in Mabopane, Tshwane, begelei het.
Eskom het in ‘n verklaring gesê dat die kragmaatskappy bekommerd is omdat dit die derde voorval is waar sy werkers aangeval en beroof word, terwyl hulle hul pligte uitvoer om elektrisiteitsvoorsiening in Mabopane te verseker.
Eskom sê dit is kommerwekkend en teleurstellend dat lede van die gemeenskap sy tegnici dreig terwyl hulle herstelwerk op die terrein doen.
Die veiligheidswag is na die plaaslike hospitaal gehaas waar hy vir ’n skietwond behandel is.
Die voorval het gebeur terwyl Eskom-tegnici besig was om ’n kabel te vervang om toevoer in die area te herstel. ’n Voertuig met vier insittendes het langs die sekuriteitsbeampte stilgehou en twee gewapende insittendes het uit hul voertuig geklim, die veiligheidswag geskiet en sy wapen afgevat.
Eskom sê dit het geen ander keuse as om sy dienste te onttrek in gemeenskappe waar sy werknemers gedreig word nie.
