’n Bekende vroulike pastoor van ‘n kerk in Worcester in die Wes-Kaap is in hegtenis geneem vir kinderpornografie.
Die pastoor word daarvan beskuldig dat sy tussen 2016 en 2022 die ouers van drie kinders omgepraat het om hul kinders toe te laat om by haar huis oor te slaap.
Sy word daarvan beskuldig dat sy die kinders bedwelm het, voordat sy hulle klere uitgetrek en kaalfoto’s van hulle geneem het.
Ndakhe Gwala, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, sê dat dié 58-jarige vrou, wie se identiteit aan AfriNuus bekend is vyf aanklagte van mensehandel, twee aanklagte van verkragting en 100 aanklagte van die besit en vervaardiging van kinderpornografie in die gesig staar.
“Een van die slagoffers het gesê die verdagte het haar in ‘n slaapkamer toegesluit en vir haar gesê om uit te trek en nie ongemaklik te wees nie, omdat hulle albei vroue is. Sy het toe verskeie kaalfoto’s van haar in verskeie dele van die kamer geneem.
“Ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte en haar man albei reeds 15 jaar vir die verkragting van minderjarige kinders uitgedien het. Die man se betrokkenheid by hierdie saak word ondersoek.”
Die saak word deur die elektroniese misdaadondersoekeenheid in samewerking met Worcester se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe hanteer.
Die pastoor is Maandag in hegtenis geneem en het Woensdag vir die eerste keer in die Worcester-landdroshof verskyn.
Die saak is tot 19 Julie uitgestel waar sy na verwagting ‘n amptelike borgtogaansoek sal indien.
Die vrou se identiteit mag nie bekendgemaak word, totdat sy pleit nie.