Wesley Twigg, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Paarl ’n saak van strafbare manslag ondersoek na ’n noodlottige ongeluk op die Malmesbury-pad (R45) waarin die 23-jarige Ruan van Rooyen noodlottig beseer is.
Volgens die SAPD het die ongeluk Donderdagoggend om 02:30 gebeur toe die bestuurder na bewering beheer oor die voertuig verloor het, voordat dit gerol en in ’n sloot langs die pad beland het.
Twee ander insittendes, Jandre Britz (23) en Micheala Smit (21), is beseer en na ’n hospitaal in die Paarl vir mediese behandeling geneem. Van Rooyen, ’n oudleerder van Hugenote Hoërskool in Wellington, is op slag dood.
Daar word beweer dat die trio op pad was na Wellington vanaf die Paarl toe die ongeluk plaasgevind het.

In ’n Instagram-video het Micheala, wie talle beserings opgedoen het, haar vriende bedank vir al die boodskappe. Britz het na bewering slegs ligte beserings opgedoen.

’n Kruis en blomme vir van Rooyen is opgerig op die plek waar die ongeluk plaasgevind het.

Huldeblyke en boodskappe van medelye het ingestroom op sosiale media ná die ongeluk.
Mathew Jacobs, Van Rooyen se nefie, het in ’n boodskap op Instagram geskryf: “Ek mis jou. Ons mis jou en ons familie is onvolledig sonder jou. Liewe neef, solank my hart klop sal jy voortleef, dit was heeltemal te gou vir jou tyd op aarde om te eindig. Jy was my familie en vriend – so ek treur nou twee keer oor jou. Dit moet seker twee keer wees? Die hartseer om die een en die ander te verloor. Hoekom is jy nie vir langer hier gehou nie?”
Van Rooyen se begrafnisdiens sal Vrydag 22 Julie om 11:00 by die Wellington-Oos-gemeente in Cummingstraat plaasvind.