Nadat sewe mense wreed vermoor is op die Lismor-plaas naby Kestell in die Vrystaat, het die polisie-ondersoekspan inligting gevolg wat tot die inhegtenisneming van twee mans van 22 en 34 jaar oud gelei het.
Die twee mans is op ’n pad net buite die Bohlokong-uitbreiding in hegtenis geneem. Twee vuurwapens wat vermoedelik uit dieselfde plaashuis gesteel is, is ook teruggevind. Daar word beweer dat een van die vuurwapens gebruik is om die moorde te pleeg.
“Vir eers kan ons net bevestig dat die jong man wat vermoor is 17 jaar oud was en die ses vroue se ouderdomme wissel van 22 en 53 jaar,” sê Motantsi Makhele, ’n provinsiale polisiewoordvoerder. “Ons verwag dat die naasbestaandes van die oorledenes gedurende die dag hul identiteite sal bevestig.”
Die twee verdagtes sal na verwagting Maandag, 18 Julie 2022, in die Kestell-landdroshof verskyn op sewe aanklagte van moord, gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens.
Die provinsiale polisiekommissaris, Baile Motswenyane, het die ondersoekspan geloof nadat hulle onverpoos gewerk het totdat hierdie verdagtes vasgetrek is.