Kolonel André Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n ondersoek van stapel gestuur het ná ’n driedubbele moord in Khayelitsha gisteraand. Dié voorval het Saterdag om 20:30 plaasgevind, waar drie mans van 34, 36 en 50 jaar oud doodgeskiet is. Die verdagtes moet nog in hegtenis geneem word. Dit is nog nie duidelik wat tot die moord van die slagoffers gelei het nie.
In ’n onverwante voorval is twee mans in hul dertigs gisteraand om 21:35 in ’n ander area in Khayelitsha doodgeskiet. Die slagoffers het in hul blou Hyundai-sedan gery toe hulle deur die insittendes van ’n wit VW Polo aangeval is. Die verdagtes het daarna van die toneel gevlug. Een van die slagoffers is op die toneel dood verklaar, terwyl die ander een dood is kort nadat hy in die hospitaal opgeneem is.
“Ons het rede om te glo dat die voorval met die dwelmhandel in die gebied verbind kan word, maar dit sal vasgestel word soos ons ondersoek ontvou,” sê kol. Traut.
’n Beroep word op die publiek gedoen om na vore te kom met inligting wat die SAPD met sy ondersoek in hierdie twee voorvalle kan help. Crime Stop kan by 08600 10111 geskakel word of die MySAPS-toepassing kan gebruik word.