’n Nasionale multidissiplinêre span wat gestig is om onwettige mynbedrywighede hok te slaan, het 97 onwettige mynwerkers en ’n 62-jarige plaaseienaar in Heidelberg, Gauteng, in hegtenis geneem.
’n Intelligensie-gedrewe operasie het gelei tot verskeie gespesialiseerde eenhede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat op ’n plaas toegesak het waar die onwettige mynwerkers gewerk het.
Na verdere ondersoek het die span beslag gelê op verskeie myntoerusting en -masjinerie. Die span het ook bevind dat al die verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 35 is, en dat hulle Lesotho-burgers is waarvan die meerderheid onwettig in die land was.
Daar is ook op drie ongelisensieerde vuurwapens en 570 rondtes ammunisie beslag gelê.
Die vuurwapens is ingeneem vir ballistiese toetsing om vas te stel of dit in enige ander misdade gebruik is.
Die plaaseienaar is ook in hegtenis geneem nadat hy ook met onwettige ammunisie en goudstof gevind is.
Alle verdagtes sal voor die Heidelberg-landdroshof verskyn op aanklag van onwettige mynbou, onwettige immigrasie, mensehandel, die besit van plofstof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.