Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het bevestig dat ’n private bus wat 20 leerders van Letsatsing Sekondêre Skool vervoer het, in Mmabatho naby Mahikeng aan die brand geslaan het.
Volgens Malindi is daar gelukkig geen beserings aangemeld toe die voorval op Saterdag, 16 Julie 2022, plaasgevind het nie.
Die leerders van Letsatsing Sekondêre Skool het die Winterkampe bygewoon wat by Mosikare Sekondêre Skool in Mantsha Village gehou is. Op pad terug huis toe toe die bus leerders rondom die Mmabatho-township afgelaai het, het dit aan die brand geslaan.
Die LUR vir Onderwys, Mmaphefo Matsemela, sê sy is dankbaar dat daar geen beserings aangemeld is nie.
“Namens die Noordwes Departement van Onderwys is ek opreg dankbaar dat daar geen beserings aangemeld is nie. Die doel van ons Winterkampe is om die prestasie van ons leerders te verbeter.
“Ons wil ’n beroep op al ons busoperateurs doen om uiters waaksaam te wees wanneer hulle leerders vervoer. Hulle moet verseker dat hul busse padwaardig is en hulle aan die padreëls voldoen,” het LUR Matsemela gesê.
Die departement het berading vir al die betrokke leerders vir Maandag, 18 Julie 2022, by Letsatsing Sekondêre Skool in Mahikeng gereël.
Klik hier om meer te lees.

