Nog twee verdagtes is die naweek deur die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaadondersoekspan in Johannesburg in hegtenis geneem. Dit volg nadat meer as R36 miljoen uit ’n oorlede kliënt van Eerste Nasionale Bank (FNB) se bankrekening gesteel is.
Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het gesê die egpaar van 28 en 43 jaar oud het na bewering R6 miljoen van een van die verdagtes in dié saak ontvang.
Hy het gesê: “Die egpaar het oor die geld begin baklei toe die een verdagte dit terugvra.
“Toe die meisie na die polisie in Johannesburg gaan om ’n saak van aanranding teen haar kêrel te open, het die polisie ontdek dat die geld waaroor hulle baklei eintlik gesteel is. Die Valke is oor die voorval ingelig, wat bevestig het dat R5,5 miljoen van die R6 miljoen wat hulle ontvang het reeds aan die sender terugbesorg is.”
Op 10 Junie 2022 is die FNB-werknemer, Thabiso Matenda, in Makhado, deur dieselfde ondersoekspan gearresteer, omdat hy na bewering R36 989 051 van ’n bankkliënt gesteel het.
“Daar word beweer dat Matenda op 25 April 2022 ’n nuwe rekening vir die kliënt, wat ’n dag tevore (24 April 2022) in ’n motorongeluk dood is, sonder magtiging oopgemaak het.
“Daar word verder beweer dat die beskuldigde met sy medepligtige saamgesweer het om ’n nuwe bankrekening oop te maak en dit aan die oorledene se rekening te koppel. Hulle het daarna begin om al die geld uit die oorledene se rekening te spandeer,” sê Maluleke.
Hy het gesê die bank het die skelmstreke ontdek en die saak by die Valke aangemeld.
“Van die gesteelde geld is na bewering aan ’n sekere kerk geskenk. Matenda is steeds in polisie-aanhouding nadat sy borgtog suksesvol teengestaan is.
“Die egpaar sal na verwagting op 18 Julie 2022 in die Makhado-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur steeds voort en nog arrestasies word verwag,” het hy gesê.