Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor minerale bronne en energie, het uitgevaar teen Eskom se jongste voorstel aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) dat die prys van krag met 32,7% verhoog word.
“Eskom se jongste aansoek vir ’n tariefverhoging van 32,7% in die prys van elektrisiteit is immoreel en ’n belediging vir Suid-Afrikaners wat moontlik die ergste beurtkragskedule tot dusver vanjaar verduur het.”
Die DA sê dit sal sy besware teen hierdie voorgestelde ‘rip-off’ indien sodra Nersa op 1 Augustus openbare kommentaar toelaat.
“Suid-Afrikaners sukkel reeds om kop bo water te bly weens stygende lewenskostes en hoë inflasie,” sê Mileham. “Vir Eskom om ’n bykomende hoë elektrisiteitstariefverhoging by te voeg vir ’n diens wat hulle nie kan lewer nie, is eenvoudig onaanvaarbaar.”
Die DA sê dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om Eskom se ‘onlewensvatbare sakemodel’ en die ANC se dekades lange mislukking om die energiemark vir onafhanklike kragprodusente (IPP’s) oop te stel, te subsidieer nie.
“In plaas daarvan om IPP’s toe te laat om nuwe energieopwekkingskapasiteit aanlyn te bring, is Gwede Mantashe besig om tyd te mors op ’n fantasie oor ’n ‘nuwe Eskom-entiteit om met Eskom te kompeteer’.”
Die DA verwerp ook Eskom se nuwe kragtariewe-voorstel wat kan beteken dat huishoudings meer geld moet betaal vir die gebruik van minder elektrisiteit. Huishoudings wat laer as die gemiddelde elektrisiteitsverbruik in Suid-Afrika het en sonkraggebruikers sal elke maand honderde rande meer betaal.
“Dit is tyd dat Suid-Afrikaners eerste gestel word en dat die regering – en Eskom – hul maneuvers laat vaar waar die verbruiker aanhou om die rekening vir hul mislukkings te betaal.”
Die DA versoek Nersa om Eskom se ‘buitensporige tariefaansoek’ te verwerp, omdat sy eerste verpligting teenoor verbruikers is – nie Eskom nie.