Die Kestell-landdroshof het vandag die saak teen twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle sewe mense op die Lismore-plaas buite Kestell vermoor het, tot Woensdag, 20 Julie 2022, uitgestel sodat die beskuldigdes ’n prokureur, wat deur die staat voorsien word, kan kry.
Kamohelo Motankisi (34) en Lerato Selepe (22) staan tereg op sewe aanklagte van moord, twee aanklagte van verkragting, een aanklagte van roof met verswarende omstandighede, een aanklagte van huisbraak met die doel om te steel en diefstal asook een aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens.
Phaladi Shuping, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag in die Vrystaat, het bevestig dat die mans daarvan aangekla word dat hulle betrokke was by die moord op Sesi Smit en vyf werknemers verlede Vrydag. Smit is ook van haar Ford Ranger beroof, wat later verlate op die pad tussen Kestell en Bethlehem gevind is.
Die twee mans is enkele ure ná die voorval in Bohlokong, Bethlehem, in hegtenis geneem. Hulle is in besit van ’n haelgeweer en ’n ander vuurwapen gevind.
Motankisi en Selepe het sonder ’n prokureur verskyn en die hof ingelig dat hulle om regshulp gaan aansoek doen.
Die saak is tot Woensdag, 20 Julie 2022, uitgestel.