Samantha Graham-Maré, die DA se skaduminister van openbare werke en infrastruktuur, het ’n beroep op die nasionale regering gedoen om kwesbare Suid-Afrikaners te help, in plaas daarvan om meer as R2,6 miljoen te bestee om die ligte by ministers se huise te laat brand.
Volgens City Press het minister Patricia de Lille se departement van openbare werke verlede jaar R1,3 miljoen bestee om kragopwekkers by ministers se huise in 2021 te installeer, en nog R681 000 vanjaar. Die koste om hierdie kragopwekkers te bedryf het van R31 750 verlede jaar tot R621 000 in die eerste helfte van 2022 gestyg.
“Terwyl hospitale, besighede en gewone Suid-Afrikaanse huishoudings in die donker moet sukkel, tref dieselfde lot nie die Ministers wat vir hierdie katastrofe verantwoordelik is nie,” sê Graham-Maré.
“As die regering werklik vir arm en kwesbare Suid-Afrikaners omgegee het, sou hulle hierdie geld geprioritiseer het om te verseker dat alle hospitale en klinieke tydens beurtkrag elektrisiteit het, dat misdaadbrandpunte nie sonder ligte was wanneer beurtkrag toegeslaan het nie, en dat klein besighede – die hartklop van die ekonomie – in die duister kan funksioneer.
Die DA meen dat Minister De Lille belastingbetalers se geld moet gebruik om die armes en kwesbares te ondersteun. Die party sê verder dat die minister nie die geld moet misbruik om ‘haar en haar mede-vetkat-ministers se gemak te verseker nie.’
“ANC-ministers word enorme salarisse betaal, en terwyl hulle weier om die land se kragramp op te los, moet hulle ten minste vir hul eie kragopwekkers en brandstof betaal,” voeg Graham-Maré by.
Graham-Maré sluit af deur te sê dat die regering die mense van die land moet dien en nie hulself nie.