Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het bevestig dat ’n slagoffer se lyk in sy voertuig ontdek is, nadat hy tydens ’n huisroof by sy huis ontvoer is.
Op Sondag 17 Julie 2022 om 08:00 word beweer dat ’n 41-jarige vrou in Fichardtpark, Vrystaat, uitgegaan het om te gaan draf toe sy deur ’n onbekende gewapende man in ’n masker aangeval is. Die verdagte het die vrou met ’n vuurwapen in die erf gedreig en kontant geëis.
’n Tweede verdagte het daarin geslaag om haar terug in die huis te kry. Die vrou en haar twee kinders van 4 en 14 jaar oud se hande en voete is vasgebind, waarna hulle in ’n slaapkamer toegesluit is. Oomblikke later het haar 46-jarige man opgedaag, waarna hy ook deur die verdagtes aangeval en met ’n vuurwapen gedreig is. Die 46-jarige man is met ’n vuurwapen in sy voertuig gedwing met sy hande en voete vasgebind waarna ’n plastieksak oor sy kop getrek is.
Die verdagtes het met die man se voertuig gery en die vrou en kinders in die slaapkamer agtergelaat. Die vrou het daarin geslaag om haarself los te maak en uit te gaan op soek na hulp. Die polisie is na die toneel ontbied waarna die voertuig deur polisielede gesoek is.
Die bakkie is om 13:30 op die N1 net buite Bloemfontein opgemerk, terwyl dit langs die pad geparkeer was. Verdere inligting was dat ‘daar ’n man vol bloed op die agtersitplek is.’ Nooddienste is na die toneel ontbied wie haar man op die toneel dood verklaar het.
Die Parkroad-polisie ondersoek ’n saak van huisroof, ontvoering en moord.
Ondersoeke duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie.