Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat ses staatsamptenare, Xoliswa Celia Ngelwane (51), Nompumelelo Winnie Nxumalo (44), Nkosinathi Samuel Gumede (37), Agnes Nozipho Ndzinisa (53), Thembi Millicent Motlohi (42) en Alman Thabang Masuku (42), voor die Nelspruit-landdroshof vir bedrog van meer as R59 miljoen verskyn het.
Vyf van die beskuldigdes het by die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling in Mpumalanga as administrateurs gewerk, terwyl Nxumalo ’n klerk by die Mbombela-registrasie-owerheid was.
Tussen 2018 en 2019 het die ses beskuldigdes na bewering onder meer onwettige transaksies gedoen deur motorlisensies aan private motorvoertuie uit te reik asof dit aan die staatsdepartemente behoort, wat ’n verlies van miljoene rande tot gevolg gehad het.
Die verdagtes staan tereg op 603 aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Hulle is elk borgtog van R15 000 toegestaan en die saak is tot 29 September 2022 vir verdere ondersoek uitgestel.