JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapse metroraad, het bevestig dat twee mans in hegtenis geneem is nadat hulle na bewering geld en selfone in die stampvol DHL-stadion in Kaapstad, met die finale toetswedstryd tussen Wallis en die Springbokke, gesteel het.
Met ’n skare van meer as 53 000 toeskouers, het die Kaapse veiligheidsagentskappe twee agterdogtige individue onder die ondersteuners waargeneem.
“Beide verdagtes is toe na ’n private plek binne die stadion begelei en ondervra waar ’n soektog tot altesaam R3 500 in kontant en 6 verskillende selfone gelei het,” sê Smith.
Die verdagtes kon geen redelike verduideliking vir die geld of aantal selfone verskaf nie.
’n 32-jarige en ’n 33-jarige man is daarna vir diefstal en die besit van gesteelde eiendom in hegtenis geneem.

Die individue is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig vir verdere ondersoek en vervolging.