’n 25-jarige verdagte is op Vrydag, 15 Julie 2022, gearresteer in verband met die beweerde moord op wyle Kgomotso Maropola wie se liggaam op 9 Maart 2022 in ’n vlak graf langs ’n spoorlyn by die Phagameng-township in Polokwane gevind is.
Die slagoffer, ’n onderwyser verbonde aan die Noordelik Skool, het uit haar woning in die Phagameng-township na ’n vriend gegaan, met die bedoeling om nuwe klere te kry wat sy via die internet bestel het.
Sy het ongelukkig nooit teruggekeer huis toe nie en is op 6 Maart 2022 by die Modimolle-polisiestasie as vermis aangemeld. ’n Soekoperasie is onmiddellik na die vermiste vrou van stapel gestuur.
Die polisie het die ondersoeke verskerp wat gelei het tot die ontdekking van die slagoffer se ontbinde liggaam wat in ’n vlak graf langs die spoorlyn begrawe is. Brigadier Motlafela Mojapelo het bevestig dat ’n moordsaak toe geopen is.
Daarna het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n taakspan saamgestel wat ’n deursoekingslasbrief op 14 Maart 2022 by ’n huis van die persoon met wie sy laaste kontak gehad het bekom het. Dit is dieselfde persoon by wie sy die klere moes gaan haal het. DNS-monsters van ’n hut wat ’n paar meter van die hoofhuis geleë was, is versamel en na die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium (FSL) vir forensiese bewyse gestuur.
Die DNS-resultate het teruggekom en die ontleding het positief ooreengestem met die bewyse wat reeds deur die span ingesamel is. ’n Intelligensie-gedrewe operasie is toe uitgevoer wat gelei het tot die arrestasie van ’n 25-jarige manlike verdagte op Vrydag 15 Julie 2022.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, Thembi Hadebe, het die span geloof dat hulle uiteindelik die saak waarin ’n jong vrou vermoor is, gekraak het.
Die verdagte sal op Maandag 18 Julie 2022 in die Modimolle-landdroshof op aanklagtee van moord verskyn. Die motief vir die voorval wat afgespeel het, is die fokuspunt van die polisieondersoek.