Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het bevestig dat sestien lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en drie sekuriteitsbeamptes in hegtenis geneem is in verband met die moord op Ishmael Gama by die Lenasia-polisiestasie op 1 April 2020.
Gama is dood terwyl hy in polisie-aanhouding was gedurende die eerste week van die harde Covid-19-inperking. Hy is na bewering in hegtenis geneem na hy Covid-19-regulasies oortree het.
Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, sê dat die oorledene en drie ander persone na bewering deur die sigbare polisiëringsbeamptes in Soweto en VSS-sekuriteitsbeamptes aangerand is.
Die burgerlike slagoffers is by die Lenasia-polisiestasie aangehou. Die oorledene het glo gekla van maagpyne tydens die uurlikse besoeke wat polisiebeamptes aan die selle gedoen het.
’n Ambulans is ontbied waarna die paramedici die een persoon op 1 April 2020 om 22:38 dood verklaar het. ’n Moordsaak is gevolglik geopen.
Borg vir die polisiebeamptes is op R2 000 vasgestel, terwyl die sekuriteitsbeamptes op borgtog van R1 000 vrygelaat is.
Hul borgtogvoorwaardes is dat die beamptes op geen manier kontak met die slagoffers of ander getuies mag maak nie.