AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is in verband met die moord wat Saterdag in die vroeë oggendure in Citrusdal plaasgevind het nie.
Volgens Swartbooi duur die ondersoek voort en moet die verdagtes in die saak nog in hegtenis geneem word.
Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het Saterdag ’n 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel om die omstandighede te ondersoek wat gelei het tot die drie mans wat doodgeskiet is.
Gedurende die vroeë oggendure is die drie slagoffers, almal vermoedelik Lesotho-burgers, by hul woning in Riverview doodgeskiet. Daar word vermoed dat ’n vierde man ook ’n skietwond opgedoen het, maar daarin kon slaag om te ontsnap.
Die verdagte(s) het van die toneel gevlug en moet nog in hegtenis geneem word.
Dit is nog onbekend wat die motief vir die moorde is. Traut versoek egter dat enige persoon wat lig op die saak kan werp, aangemoedig word om 08600 10111 te kontak.