’n 41-jarige man, Louis Johannes Grobler, sal na verwagting vandag in die Ermelo-landdroshof verskyn ná ’n voorval waarin die verdagte na bewering twee kinders met sy motor omgery en nog een aangerand het. Hy staan tereg op twee aanklagte van poging tot moord asook ’n aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die kinders is onderskeidelik 10, 11 en 13 jaar oud.
Luidens ’n verklaring deur Donald Mdhluli, ’n polisiewoordvoerder in Nelspruit, het die verdagte, Louis Grobler, na bewering die twee minderjariges omgery en daarna die derde een aangerand nadat hy hulle van diefstal beskuldig het. Die voorval het glo op Vrydag, 15 Julie 2022, om 14:00 op ’n plaas in Ermelo plaasgevind. Die saak is toe by die polisie aangemeld en nadat ’n ondersoek gedoen is, is die man dieselfde middag in hegtenis geneem.
Die verdagte het glo sy eerste hofverskyning op Maandag 18 Julie 2022 gemaak waar die saak tot Woensdag 20 Julie 2022 vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel is.
Die voorval, wat spanning in die gemeenskap veroorsaak het, is ook ten sterkste veroordeel deur die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela. “Ons doen ’n beroep op lede van die publiek om nie die reg in eie hande te neem nie, maar om eerder misdaad by die owerhede aan te meld.”
Manamela het bygevoeg dat die reg sy loop neem, aangesien die saak in die hande van die hof is. “Ons is dankbaar dat die polisie ’n vinnige arrestasie van die verdagte kon maak. Ons hoop dat geregtigheid sal geskied aan die drie slagoffers,” het die Generaal bygevoeg.