Mediaberigte dat president Cyril Ramaphosa, as deel van sy oplossing om die energiekrisis aan te spreek, ’n gedeeltelike oorname van Eskom se skuld deur die staat sal aankondig, is nie net kommerwekkend nie, maar hou ook ’n gevaarlike risiko vir Suid-Afrika se skuldlas in.
Só het dr. Dion George, DA-woordvoerder oor finansies, Woensdag in ’n verklaring gesê.
In Februarie het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) gewaarsku dat die verskuiwing van Eskom se skuld na die staat se balansstaat ’n merkbare verswakking in die land se reeds uitgerekte finansies sal veroorsaak. Stygende skuld en skuldkostes het die ding geword wat die vinnigste in die begroting groei. “In plaas daarvan om dit te vererger, moet die regering stappe neem om risiko’s vir fiskale volhoubaarheid te verminder,” voeg dr. Dion George by.
Die DA sê dit sal aan die minister van finansies, Enoch Godongwana, skryf en hom vra om die waarheid van hierdie bewerings te ontken of te bevestig.
“Belastingbetalers moenie gevra word om ’n sinkende Eskom-skip te huisves wat deur politieke elites geplunder is tydens die staatskapingstydperk nie,” sê dr. George.
Die DA meen dat Eskom se ‘onlewensvatbare sakemodel’ en die staatsonderneming (SOE) se ‘onvermoë om voldoende inkomste te genereer’ om sy skuld, wat tans op meer as R390 miljard staan, te dek, ’n slegte beeld op die land se nasionale balansstaat sal plaas.
Volgens die 2022-begrotingsoorsigdokument is die totale laste vir SOE’s (saamgestelde skulde verskuldig deur SOE’s) vir 2020/2021 R853,4 miljard. “Die oorname van Eskom se skuld sal ’n baie duur verwagting skep van ander mislukte SOE’s, waarin hulle kan verwag dat die regering hul skuld sal oorneem en hul onderprestasie sal subsidieer.”
Die DA sê dat die nasionale regering die risiko loop om Suid-Afrika byna onmiddellik terug na rommelstatus te gradeer. Dit sal volgens die party die ekonomie oor die rand stuur en Suid-Afrika in ’n skuldkrisis dompel.