Solidariteit het vandag Eskom se jongste aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) as ‘absurd, irrasioneel en onwettig’ bestempel en gesê dat indien die voorstel aanvaar word Solidariteit dit met elke regsopsie tot sy beskikking sal teenstaan.
Dit volg nadat Eskom in sy jongste aansoek onder meer gevra het dat ’n tarief van R938 per maand op verbruikers gehef word wat self krag opwek.
Volgens Solidariteit lê Suid-Afrika se enigste hoop uit die huidige kragkrisis in kleinskaalse kragopwekking wat op ’n groot skaal plaasvind.
“Dit is een ding as Eskom nie tot die oplossing van Suid-Afrika kragkrisis wil bydra nie. Maar deur sulke voorstelle te maak verander Eskom van ’n meulsteen om die nek na ’n vyand van betroubare kragvoorsiening,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit voer aan dat die land juis nou uit sy pad moet gaan om privaat kragopwekking aan te moedig en te vergemaklik terwyl Eskom se tariefvoorstel die situasie net vererger.
“In plaas daarvan om privaat kragopwekking aan te moedig, wil Eskom dit nou belas. Om belasting vir ’n diens te betaal is een ding; om belasting te betaal vir geen diens nie, is iets totaal anders. Die voorstel moet so spoedig as moontlik verwyder word. Indien nie, sal ons die howe nader om dit te doen,” sluit Hermann af.