Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het die hooggeregshof se besluit om die voormalige SAUK-bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, se verlof tot appèl van die hand te wys, verwelkom. Die bevel sal hom nou verplig om minstens R11,5 miljoen aan die SAUK terug te betaal.
Motsoeneng is in Desember verlede jaar beveel om minstens R11,5 miljoen terug te betaal in ’n “suksesfooi” wat die SAUK in 2016 aan hom betaal het.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het verduidelik dat Motsoeneng die geld met rente teruggedateer na 2016 sal moet terugbetaal.
“In Desember 2021 het die hof verklaar dat die besluit van 19 Augustus 2016 deur die destydse SAUK-raad om Motsoeneng ’n suksesfooi van meer as R11,5 miljoen te betaal vir die beklink van ’n MultiChoice-transaksie ‘onwettig en ongeldig’ was. Die MultiChoice-transaksie het die betaaltelevisiediensverskaffer toegang tot die SAUK se argiewe gegee.
“Die SOE het saam met die SAUK die hooggeregshof genader om ’n besluit van die voormalige SAUK-raad om Motsoeneng ’n suksesfooi te betaal en finansiële verliese wat die SAUK gely het, te hersien en tersyde te stel. Ondersoek deur die SOE het aan die lig gebring dat die SAUK onreëlmatig geld aan individue betaal het en kontrakte aangegaan het tot nadeel van die openbare uitsaaier,” het Kganyago gesê.
Hy het gesê die ondersoek na die openbare uitsaaier is gemagtig na aanleiding van ’n besluit deur president Cyril Ramaphosa.
“Die SOE het die SAUK ondersoek ingevolge Proklamasie R29 van 2017, wat deur president Cyril Ramaphosa gemagtig is, om bewerings van korrupsie, wanadministrasie, wanpraktyke en betalings wat deur die SAUK gemaak is, tesame met die optrede van sy werknemers, te ondersoek.
“Waar nodig, is die SOE gemagtig om siviele verrigtinge in te stel en bewyse wat op misdadigheid dui, na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verwys vir vervolging in ooreenstemming met die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale 74 van 1996,” het Kganyago gesê.