’n Verslag deur die marknavorsingsmaatskappy Euromonitor International het onthul dat die onwettige drankmark in Suid-Afrika in 2020 met 10% in volume gegroei het, vergeleke met 2017. Dit is grootliks aangespoor deur Covid-19-regulasies wat die verkoop daarvan tydens die piek van die koronaviruspandemie verbied het.
In opdrag van die Vereniging van Drankhandelsnaameienaars (Salba), die Biervereniging van Suid Afrika (Basa) en Vinpro in 2021, het die verslag gepoog om die onwettige drankmark tydens die pandemie beter te verstaan - ’n tyd toe kansvatters voordeel getrek het.
Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, sê die totale aandeel van onwettige alkohol in 2020 is na raming R20,5 miljard werd en het 22% van die totale alkoholvolumes uitgemaak. “Dit beteken een uit elke vyf bottels is potensieel onwettige produkte”.
Volgens Salba was die groei in die vraag na onwettige alkohol in 2020 ’n direkte gevolg van die verbod op alkoholverkope.
Ander redes vir die groei van die onwettige mark is swak regulatoriese afdwinging en onvoldoende strafmaatreëls wat misdaadsindikate aangespoor het om hul smokkel- en vervalsingsbedrywighede op te skerp.
Salba verduidelik verder dat die uitbreiding van die onwettige handel ’n verwoestende sosiale impak op burgers se gesondheid en welstand gehad het, asook georganiseerde misdaadsindikate aangevuur het.
Suid-Afrika se onwettige drankmark word ook vererger deur streng regulasies oor die wettige verkoop van alkohol, insluitend hemelhoë sondebelasting.
Dit, tesame met ’n verswakkende makro-omgewing waar werkloosheid vanjaar tot 34,5% toegeneem het, en toenemende hoë inflasiekoerse, het die vraag na goedkoper onwettige produkte aangevuur.
Ten tyde van die verslag het die onwettige alkoholhandelverkope per volume die hele gekombineerde wyn- en sidersektor verbygesteek (665 431 HL teenoor 627 758 HL).
Suid-Afrika se sidermark is net tweede na die Verenigde Koninkryk en ons is die agtste grootste wynprodusent ter wêreld is.
Salba is diep bekommerd is oor die veiligheidsrisiko’s verbonde aan die verbruik van onwettige konkoksies en die kommersiële groei van ’n onwettige alkoholnetwerk.
“Ongereguleerde alkohol is nie onderhewig aan streng gehaltebeheermaatreëls nie en word nie voldoende gepolisieer nie. Baie van hierdie onwettige alkoholiese konkoksies bevat twyfelagtige bestanddele wat ongeskik is vir menslike gebruik en dodelik kan wees as dit ingeneem word. Ons doen ’n beroep op beide drankwinkels en verbruikers om hul voorkeurprodukte van betroubare bronne te koop.”
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het volgens die verslag in 2020 R11,3 miljard aan onwettige handel in alkohol verloor.