Meer as 780 operasies is verlede jaar by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg gekanselleer, wat die lang waglys van 2 677 pasiënte vir chirurgie vererger het.
Die inligting is deur die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomathemba Mokgethi, onthul in ’n skriftelike antwoord op Jack Bloom, Gauteng se DA-woordvoerder vir gesondheid, se vrae in die Gautengse wetgewer.
Pediatriese chirurgie is die meeste geraak, met 610 operasies wat gekanselleer is. Die ander kansellasies was soos volg:
- 80 kardiotorakale operasies is gekanselleer;
- 40 gastro-intestinale operasies is gekanselleer;
- 25 bors-, endokriene- en sagteweefseloperasies is gekanselleer;
- 20 neurochirurgie-operasies is gekanselleer; en
- 10 oor-, neus- en keeloperasies is gekanselleer.
Die grootste waglys is vir ortopedie, met 833 pasiënte wat tot twee jaar vir chirurgie kan wag.
Pediatriese chirurgie het 453 kinderpasiënte wat tussen 6 maande en twee jaar sal wag.
Daar is 200 katarakpasiënte wat tussen 6 en 8 maande vir chirurgie sal wag, 137 neurochirurgiese pasiënte sal vir ses maande wag, en 109 urologiepasiënte sal tussen 4 en 6 maande wag.
“Ek dink hierdie syfers onderskat die ware situasie aangesien dit nie die lang wagtydperke insluit vir baie pasiënte om deur ’n spesialis gediagnoseer te word voordat hulle op die waglyste vir chirurgie geplaas word nie,” sê Jack Bloom.
Onvoldoende teatertyd en die tekort aan hoësorgeenheid (ICU)-beddens is die hoofredes vir die kansellasie van operasies.
Die ontwrigting weens Covid-19 en die gedeeltelike sluiting van die hospitaal weens die brand in April verlede jaar is ander faktore.
“Dit is veral ontstellend dat baie kinders nie geopereer kan word nie,” voeg Bloom by.
“Dit beklemtoon die noodsaaklikheid om die hospitaal so gou as moontlik heeltemal te heropen, en om die operasiesaal en ICU-kapasiteit uit te brei om die waglyste vir operasies drasties te verminder.”