Linda Ebersohn (59) het op Vrydag 22 Julie 2022 by die Middelburg-streekhof skuld beken op 867 aanklagte van diefstal en is gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf waarvan vyf jaar opgeskort is vir vyf jaar op die voorwaarde dat die beskuldigde nie aan ’n misdryf skuldig bevind word nie.
Kaptein Dineo Lucy Sekgotodi het bevestig dat die vonnis volg op voorvalle wat tussen 1998 en 2017 gebeur het waarvolgens die beskuldigde, wat ’n debiteure- en krediteureklerk by die maatskappy was waar sy gewerk het, fiktiewe en of bestaande krediteurebesonderhede op die stelsel geskep het en betalings aan haar persoonlike rekening gemaak het. Sy het die geld verder na haar man en twee kinders se rekeninge oorbetaal.
Die saak is by die Valke se ernstige kommersiële misdaadondersoekeenheid in Middelburg vir verdere ondersoek aangemeld. Die ondersoek is afgehandel en die beskuldigde is met die misdaad verbind. Sy is op 27 November 2018 in hegtenis geneem en het die volgende dag in die hof verskyn. Haar familielede is ook in hegtenis geneem en aangekla.
Tydens die vonnisoplegging Vrydag is die aanklagte teen die ander drie teruggetrek toe Ebersohn skuld beken het.
Die Valke se provinsiale hoof, generaal-majoor Zodwa Mokoena, het die ondersoekbeampte en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) geloof vir so ’n vonnis wat as ’n les vir ander diewe sal dien.