Die 13de Klein Karoo Klassique is om die draai en kaartjieverkope vir dié fees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn vorder flink.
“Ons is opgewonde om weer klassieke musiekliefhebbers van heinde en verre van Vrydag 5 tot Dinsdag 9 Augustus op die pragtige Oudtshoorn te verwelkom”, sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.
“Klassique is ’n viering van klassieke musiek, maar ook ’n lekker kuierfees met kos-, proe- en wynervarings. Hierdie jaar word boekgesprekke met onder meer bekroonde skrywers ook ingesluit. Die program is saamgestel om ’n verskeidenheid werke en instrumente te bied en sluit van ons land se top musikante en sangers in”, vertel hy.
Hoogtepunte op die musiekprogram sluit die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis se Songs for my Mother in, wat die onmiddellik-herkenbare komposisies van Chopin en Bach met die liriese werke van Brahms, Beethoven en ritmiese jazz-werke van Alexis Weissenberg en Morton Gould kombineer.
Sopraan Lynelle Kenned deel in Handel at Home die verhoog met sopraan Hlengiwe Mkhwanazi, Ingo Müller (barokhobo), Cheryl de Havilland (baroktjello) en Erik Dippenaar (klavesimbel) by De Opstal Country Lodge vir ’n program van kamermusiek vir instrumente en stemme deur Handel. Kaartjies sluit ’n ligte ete in en ’n kontantkroeg is beskikbaar.
Lede van die Kaapstad Opera, Janelle Visagie (sang), Alida Stoman (sang), Monica Mhangwana (sang) en José Dias (pianis), open Klein Karoo Klassique op ’n hoë noot met die Klassique Galakonsert (moontlik gemaak deur die ATKV), met bekende opera arias, duette, asook ensembles uit musiekteater. Dié spesiale uitvoering is ’n viering van vroue met die gewildste arias vir vroulike stemme.
Drie uitvoerings word deur verskeie kunstenaars van die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO) aangebied, waaronder Cello and Piano Recital met pianis Megan-Geoffrey Prins en tjellis Peter Martens. Hulle speel Schumann se Fantasiestücke, Op. 73, Beethoven se Sonate vir Tjello en Klavier in A-majeur, Op. 69 en Popper se Tarantella, Op. 33. In Trio of Trios speel violis Suzanne Martens, altviolis Karin Gaertner en tjellis Peter Martens drie trios, waaronder Beethoven se Trio in D-majeur, Op. 9 No. 2 vir Viool, Altviool en Tjello, Dohnányi se Serenade in C-majeur vir Stryktrio, Op. 10 en Stephenson se Stryktrio. Lede van die KFO en die Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes voer in A Celebration of Youth Mozart se Fluit-kwartet in D-majeur, K. 285, Beethoven se Trio in B-mol-majeur, Op. 11 “Gassenhauer” vir Klarinet, Tjello en Klavier en Schumann se Klavier-kwartet in E-mol-majeur Op. 47 uit.
As deel van die voortdurende verkenning van die repertoire uit die Baroktydperk, bied die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes (SANJO) in Baroque to the Future ’n program aan wat die uitdrukkingsvolle kwaliteite van 18de-eeuse musiek uitbeeld, met werke van Handel, Purcell, De Lalande en Rameau. Sopraan Mkhwanazi sluit by hulle aan. Dippenaar lei die uitvoering van agter die klavesimbel, soos wat die gebruik in die Barok was.
Tussendeur die musiek kan feesgangers smulkos en wyn, visuele kuns en boekgesprekke by Liplekker in die Banketsaal bo die Burgersentrum geniet. “Nostalgie Restaurant sorg vir die spyskaart, met koffie van Beans About Coffee en ander drinkgoed. Kom proe ook die Klein Karoo se wyn en ander deli lekkernye,” nooi Theart.
Visuele kunskurator Liza Grobler bring werke deur kunstenaars van regoor Suid-Afrika bymekaar, vir ’n uitstalling getiteld Music Sounds Better With You. Die kunswerke is rondom musiek en klank in ons alledaagse omgewing gesentreer. Kunstenaars sluit Barbara Wildenboer, Hermann Niebuhr, Norman O’Flynn, Mia Thom, Ashley B. Walters, Liza Grobler, Cameron Platter, Madikotsi Khumalo, Garth Erasmus en Lisl Barry in. Kunswerke word in Liplekker uitgestal en te koop aangebied.
Drie skrywers neem vir die eerste keer ook deel aan Klein Karoo Klassique: die Hertzogprys-wenners Ingrid Winterbach en Johan Myburg en die Oudtshoorniet adv. Pieter van Wyk is by die fees te sien. Die boekeredakteur Elna van der Merwe is die samesteller. Boeke en aandenkings kan in die Boekeparadys gekoop word.
Alle uitvoerings, tensy anders aangedui, word in die Oudtshoorn Burgersentrum aangebied. ’n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 klassieke musiekuitvoerings is beskikbaar teen R1 300 of enkelkaartjies kan vir uitvoerings gekoop word. Vriende van die KKNK kwalifiseer vir 5% afslag. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za), Pick n Pay-winkels regoor die land, of die KKNK-kantoor.
Vir meer inligting en om die feesgids af te laai, besoek Klein Karoo Klassique se webblad by www.klassique.co.za of kontak 044 203 8600. Om ’n Vriend van die KKNK te word, besoek www.kknk.co.za.