Kevin Mileham, die DA se skaduminister vir minerale hulpbronne en energie, en Ghaleb Cachalia, die party se skaduminister vir openbare ondernemings, het gesê dat president Cyril Ramaphosa se vyfpunt-energieplan, wat daarop gemik is om Eskom se geïnstalleerde opwekkingskapasiteit te benut om die korttermyn elektrisiteitsvoorsieningsgaping te vul en die elektrisiteitsektor oop te stel vir Onafhanklike Kragprodusente (IPP’s), direk uit die DA se speelboek is.
“Terwyl die DA die stappe wat die President geneem het om die energiekrisis aan te spreek verwelkom, vind ons dit steeds onaanvaarbaar dat dit so lank geneem het om op te tree,” lui ’n verklaring deur die politieke party. Die DA het vir jare en so onlangs as Mei gevra vir die oopstelling van die netwerk vir IPP’s deur rompslompvermindering en verhoogde private sektorinvestering in die elektrisiteitsektor.
Noudat ’n energieplan aangekondig is om die elektrisiteitskrisis aan te spreek, sal die DA binnekort ’n Energieplan-implementeringsmoniteringstelsel (Energy Plan Implementation Tracker) bekend stel om Ramaphosa se regering eerlik te hou oor projekimplementering en rompslomp-verminderingsmylpale. Die stelsel sal veral die President aanspreeklik hou oor die verbintenisse wat gemaak is om nuwe opwekkingskapasiteit by te voeg.
Een area van kommer uit Ramaphosa se energieplan is die stigting van die sogenaamde Nasionale Energiekrisiskomitee (NECOM) wat saamgestel is uit ‘relevante’ ministers om toesig te hou oor die implementering van die plan. “Suid-Afrika kan eenvoudig nie bekostig dat individue soos ministers Gwede Mantashe en Pravin Gordhan, wat herhaaldelik in die pad van IPP’s en private sektor-investering in die energiesektor gestaan het, pogings lei om die beurtkragkrisis aan te spreek nie,” sê die politieke party verder.
Met geen portefeuljekomitee wat die President verantwoordbaar hou nie, sal die DA aan die Speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa Nqakula, skryf en die instelling van ’n parlementêre Ah-hoc-komitee aanbeveel om toesig te hou oor NECOM. “Dit is nie duidelik watter magte hierdie liggaam sal besluit om homself toe te dien nie en daarom is dit belangrik dat die Parlement van die begin af intree om dit aanspreeklik te hou.”
“Vir die lang medium- tot langtermyn, en soos vroeër vandag deur DA-leier John Steenhuisen gestel is, behoort Ramaphosa se regering uit die pad te kom van diegene wat hierdie gemors wil – en in staat is om – reg te maak. Baie van die struikelblokke vir verhoogde generasie word self deur die regering opgelê. Of dit nou is deur in die pad te staan van munisipaliteite wat hul eie elektrisiteit wil aanskaf of opwek, of enige van die ander teenproduktiewe regulasies rondom voorkeurverkryging of plaaslike inhoudvereistes. Hierdie nasionale regering was deurgaans die grootste deel van die probleem,” lui die verklaring verder.
Die Stad Kaapstad het vandag baanbrekende planne aangekondig om kommersiële en industriële kragopwekkers toe te laat om soveel energie as wat hulle kan terug te voer na die netwerk. Kommersiële en industriële kragopwekkers sal nou toegelaat word om meer elektrisiteit aan die Kaapse metro te verkoop as wat hulle gebruik.
“Die DA is gereed en bereid om by te dra tot enige opregte nasionale poging wat daarop gemik is om die energiekrisis aan te spreek en Suid-Afrika weer aan die werk te kry,” lui die verklaring. “Die President sal ons ondersteuning hê in die implementering van die energieplan solank hy verbind bly tot die deursigtige en verantwoordbare implementering van die plan met die dringendheid wat vereis word.”