Solidariteit het die regering se plan om die kragkrisis in Suid-Afrika aan te pak verwelkom. Volgens Solidariteit verteenwoordig die plan, wat talle van Solidariteit se onlangse voorstelle eggo, ’n benoude sprong in die regte rigting.
Volgens Dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit is die regering se skuif na ’n meer gedesentraliseerde stelsel vir kragopwekking die enigste werkbare en volhoubare oplossing tot Suid-Afrika se kragkrisis.
“Soos ook in Solidariteit se vroeëre plan uiteengesit is die aanmoediging en fasilitering van kleinskaalse kragopwekking op ʼn groot skaal van kardinale belang om ons kragnetwerk te stabiliseer,” sê Hermann “Deur deregulering en die verwydering van regulatoriese hindernisse bevry ons die privaat sektor en gemeenskappe om skeppende en veerkragtige oplossings vir die krisis te bied.”
Solidariteit het voorts gestel dat sy fokus nou skuif na die implementering van die plan wat die regering aangekondig het.
“Enige plan, ongeag hoe goed, moet steeds behoorlik geïmplementeer word. Baie van hierdie voorstelle gaan loodreg teen die regering se staatsgesentreerde DNS en derhalwe sal daar ’n groot versoeking wees om terug te val op daardie uitgediende model. Ons hou nou die regering met ʼn valkoog dop om te vir seker dat hulle hierdie beloftes nakom,” sluit Hermann af.