Die South African Wildlife Rehabilitation Center (SAWRC) het uitgevaar teen die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) in Schweizer-Reneke, Noordwes, ná ’n jagkompetisie wat geloods is om geld vir die kerk in te samel.
Luidens die inskrywingsvorm kom jy in aanmerking om ’n jakkals, rooikat, vlakvark, ystervark, tarentaal en/of fiesant te jag.
Die eerste prys wat jy kan wen is die geleentheid om twee leeus te jag, terwyl die tweede prys ’n koedoe en derde prys ’n diepsee-visvang-geleentheid in St. Lucia is.
Om vir die wenprys in aanmerking te kom, moet jy R2 000 betaal.
Die SAWRC het in ’n verklaring gesê: “Om God se skepsels dood te maak om geld vir ’n kerk in te samel, moet een van die skynheiligste aksies moontlik wees.”
Die natuurbewarings- en rehabilitasiegroep het uitgevaar teen die kerk se besluit om ’n jagkompetisie aan te bied.
“Nie elke skoot sal ’n doodmaakskoot wees nie.. nie elke dier is gewaarborg om nie kleintjies te hê nie.. so wat gebeur met die babas? Wat gebeur met die gewondes wat nie gevind word nie?”
“Sekerlik, as ’n mens R2 000 het om op hierdie soort vernietiging te mors, kan dit bloot geskenk word sonder die verskriklike slagting van van die ongelooflikste diere wat ons in ons land het,” voeg die organisasie by.