Lorraine Botha, DA-hoofsweep in die wetgewer, het bevestig dat die Wes-Kaapse parlement se staande komitee oor die premier en konstitusionele aangeleenthede vandag ’n oorsigbesoek aan die provinsiale regering se netwerk-, infrastruktuur- en operasionele sentrum (NIOC), sowel as die Grootte Schuur-staatshospitaal in Kaapstad uitgevoer het.
Die NIOC is die middelpunt vanwaar alle konnektiwiteit met betrekking tot staatsdienste, sowel as gratis openbare hotspots gemonitor word. Vanuit die NIOC kan die span presies sien wat regoor die provinsie gebeur by 1 328 openbare hotspots, sowel as regeringsgeboue soos hospitale en skole, en onmiddellik reageer op enige onderbrekings wat mag voorkom. Die moniteringstelsels loop 24/7, wat beteken dat sodra iets verkeerd loop, dit reeds hanteer word.
“Die Wes-Kaapse regering prioritiseer konnektiwiteit vir ons meer onderbediende burgers. Tans kan burgers tot 6 GB data per maand by enige gratis hotspot gebruik,” sê Botha. “Die praktiese impak hiervan was duidelik tydens ons besoek aan die Grootte Schuur-hospitaal, waar mense wat wag, hul toestelle kon gebruik om gratis toegang te kry tot kommunikasiedienste, die nuus, en selfs om werksgeleenthede te soek.”
Gedurende Junie 2022 is ongeveer 250 TB se data deur middel van die gratis hotspots verbruik. As jy huidige pryse van selfoonmaatskappye vir data teen ongeveer R100 per GB bereken, beteken dit ’n besparing van R25 miljoen in totaal vir Wes-Kaapse inwoners.
Lorraine Botha sê: “Ek was beïndruk deur die magdom data en kundige kennis wat deur die span by die NIOC vertoon is. In die moderne wêreld is kennis ’n pad na ’n beter lewe, en die uitbreiding van toegang tot inligting deur internetverbinding is ’n uitstekende belegging van hierdie regering, aangesien dit ’n belegging in die sosiale mobiliteit van ons mense is.”
Die hotspots is ook by talle winkelsentrums, biblioteke en skole regoor die provinsie geïnstalleer.