Kaptein André Beetge, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het bevestig dat ’n 22-jarige man vermoedelik weens rookinaseming dood is, nadat hy op Maandag, 25 Julie 2022, om 22:30, sy braaier in sy kamer vir hitte gesit het nadat hy saam met sy vriende gebraai het.
Nadat sy vriende Dinsdag, 26 Julie, om 11:40, weer na hom by sy huis in Kariega gesoek het, het hulle sy lewelose liggaam op sy bed gevind.
Daar word vermoed dat hy weens rookinaseming oorlede is. Sy identiteit kan nie bekend gemaak word nie aangesien sy naasbestaandes nog ingelig moet word.
’n Geregtelike doodsondersoek is begin en word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Kariega, in die Oos-Kaap, ondersoek.
“Die SAPD doen ’n beroep op landsburgers om ekstra versigtig te wees tydens koue winternagte, veral wanneer hulle hul kamers en huise met elektriese toerusting en toerusting met oop vlamme verhit,” sê Beetge. “Hierdie metodes hou ’n brandrisiko in sowel as risiko’s van rookinaseming, en ons gemeenskappe word versoek om hierdie metodes verantwoordelik en veilig te gebruik.”