Kaartjies na Afrikaans is Groot se agt konserte by die SunBet Arena by Time Square in Pretoria is Dinsdag binne 12 ure uitverkoop! Kaartjies het Dinsdag 26 Julie om 10:00 geopen en teen 22:00 is ongeveer 56 000 kaartjies op iTickets se aanlynplatform verkoop.
Dit volg nadat die grootste Afrikaanse musiekkonsert vir bykans drie jaar nie weens die Covid-19-pandemie kon plaasvind nie.
Die konserte vind tussen 4 November en 13 November 2022 plaas. Die kunstenaars wat op die verhoog sal wees, is Jo Black, Riana Nel, Riaan Benade, Bernice West, Elvis Blue, Demi Lee Moore, Ruhan Du Toit, Ricus Nel, Corlea, Irene-Louise Van Wyk, Elandré, Refentse, Karlien van Jaarsveld, Jay du Plessis, Appel, Bok van Blerk, asook die wenner van Die Kontrak se tweede seisoen.
“Ons is opreg dankbaar vir julle ondersteuning en oorweldig met die ernome aanvraag vir die Afrikaans is Groot-kaartjies,” lui ’n Facebook-plasing deur die musiekkonsert. “Agt vertonings is binne 12 ure uitverkoop!”
“Ons besef daar was duisende mense in die ry wat nie kaartjies kon kry nie en ons deel julle frustrasie. Daarom deel ons die goeie nuus! Op 1 Augustus sal ons kaartjies vir ’n ekstra konsert of twee slegs by iTickets beskikbaar stel.
“Uit die aard van die groot vraag is die sisteem stadiger as gewoonlik en neem dit langer vir banke om die transaksies te verwerk. Julle geduld sal wel beloon word.”
Afrikaans is Groot het konsertgangers, wat nog kaartjies soek, versoek om hulle behoefte vir ’n ekstra konsert op ’n aanlynvorm te deel: bit.ly/EkstraAiG22Konsert