Op Woensdag 27 Julie 2022 het drie Lesotho-burgers, Moeketsi Hlaudi, Kekekso Ntsabisa en Thabiso Ramollo, in die Bonnievale-landdroshof verskyn ná hul suksesvolle uitlewering van Lesotho aan Suid-Afrika. Die staatsaanklaer, adv. Megan Blows, het die hof ingelig dat die drie beskuldigdes teregstaan op aanklagte van moord, poging tot moord, roof met verswarende omstandighede asook die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Adv. Blows het aan die hof gesê dat die beskuldigdes in 2019 die Kapteinsdrift-plaaseienaar en boer, Jurie (Tool) Wessels, op sy plaas in Bonnievale vermoor het. Die beskuldigdes, wat seisoenale werk by die oorledene se plaas verrig het, het van hul kennis van die plaas gebruik gemaak en beplan om die plaaseienaar en sy vrou aan te val. Hulle het Wessels en sy vrou, Liezel, gemartel deur hulle te steek, te slaan en met kookwater te gooi.
Tool is met ’n noodlottige skietwond op die plaas gevind, terwyl sy vrou met talle beserings vir die dood agtergelaat is.
Aanvanklik is slegs een verdagte in hegtenis geneem ná die gru-moord. Ntabanyane Tlali het in die Wes-Kaapse hooggeregshof vir die misdade verskyn. In 2020 het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) formeel ’n uitleweringsversoek by die Koninkryk van Lesotho ingedien en versoek dat die oorblywende beskuldigdes, wat onmiddellik ná die moord gevlug het, aan Suid-Afrika uitgelewer word om die aanklagte in die gesig te staar.
Na ’n lang uitleweringsondersoek wat in Lesotho plaasgevind het, kon die ondersoekbeampte, sers. Estelle Wessenaar, asook lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Interpol uiteindelik die beskuldigdes uitlewer en oor die Suid-Afrikaanse grens vervoer. By hul eerste hofverskyning het adv. Blows hul vrylating op borg teengestaan, hangende hul verhoor. Die aangeleentheid is daarna tot 3 Augustus 2022 uitgestel sodat die beskuldigdes die hof kon inlig of hulle van plan is om ’n borgtogaansoek te doen. Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat die NVG enige aansoek om borgtog heftig sal teenstaan, hangende die strafregtelike verhoor.
Die direkteur van openbare vervolging in die Wes-Kaap, adv. Nicolette Bell, het die uitlewering verwelkom en bevestig dat die suksesvolle uitlewering die gevolg was van ’n gesamentlike poging tussen die NVG, SAPD, Interpol en die departement van korrektiewe dienste.
AfriNuus sal die storie in diepte oor die komende maande volg, soos die hofsaak ontvou.