Die Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) het bevestig dat drie skoolkinders dood en dertien ander mense ernstig beseer is, nadat die remme van ’n minibustaxi onklaar geraak het, voordat dit vanmiddag in voetgangers in Inanda in KwaZulu-Natal ingeploeg het.
Rusa het Donderdag om 15:28 ’n oproep vir bystand van ’n woedende vrou ontvang. Die vrou het aan Rusa gesê dat sy ’n passasier was in die taxi wat omgeslaan het nadat dit vyf voetgangers getref het.
Die enigste inligting wat sy kon verskaf oor die ligging van die ongeluk was dat dit in die omgewing van ’n Shembe-kerk naby die Inandadam was. Sy is ernstig beseer en kon nie ’n ligging na die plek verskaf nie.
Reaksiebeamptes is in die rigting van die Inandadam gestuur, terwyl die persoon aan diens verskeie oproepe na nooddienste gemaak het en die plek gevind het.
Met hul aankoms het Rusa-beamptes sowel as paramedici van die provinsiale ambulansdiens, die Ethekwini brand- en reddingsdienste en lede van die Suid-Afrikaanse Weermag (SANW) vinnig gewerk om dertien mense wat ernstige beserings opgedoen het, te stabiliseer.
Drie laerskoolleerders is noodlottig beseer. Een van die oorledenes was vasgekeer onder die wrak van die omgeslaande wit Toyota Hiace. Brandbestryders het toerusting gebruik om die taxi op te lig en die liggaam van die kind te verwyder.
Volgens getuies het die taxi teen ’n steil pad gery toe sy remme onklaar geraak het. Die bestuurder het op ’n grondpad gery toe hy vyf laerskoolleerders wat op pad was huis toe getref het. Die minibus het toe in ’n muur vasgery voordat dit omgeslaan het, wat talle beserings aan passasiers tot gevolg gehad het.
Die beseerdes is met verskeie ambulanse na die hospitaal vervoer.

