“Ek en my man is albei lief vir McDonald’s, so why not?”
Só het Maxime Jacobus Donderdag aan AfriNuus gesê nadat sosiale media gegons het oor sy en haar man, Moses, se McDonald’s-onthaal. Na hul seremonie het die paartjie besluit om hul gaste te bederf deur hulle na McDonald’s in Beaufort-Wes te neem vir hamburgers en skyfies.
Maxime en Moses Jacobs het op 19 Maart 2022 die knoop deurgehak by hul pastoor se huis, voordat hulle na McDonald’s in Beaufort-Wes gegaan het om vir hul 30 gaste Big Mac-ete’s te bedien.
“Ons troudaggie was baie spesiaal vir ons,” sê Maxime in ’n onderhoud met AfriNuus. “McDonald’s het uit hul pad gegaan om seker te maak dat al ons gaste se kos betyds klaar is.”

“Elke gas het ’n hamburger en skyfies by die kitskosrestaurant geniet na die seremonie. Ek en my man het ook ’n McFlurry-roomys geniet, terwyl ons vir die kos gewag het.”

So, hoekom McDonand’s?
“Ons het ’n lang gastelys gehad en ons troudatum het baie geskuif weens ons begroting wat kortgeknip is. Toe besluit ons om dinge kleiner te maak. Ek en my man is albei lief vir McDonald’s, so why not?” sê Maxime. “Voor die troue het my familie en vriende gekla oor die idee maar op die troudag was almal baie gelukkig.”
Na die McDonald’s-onthaal het die paartjie ekstra geld gehad om ’n lekker wittebrood in Langebaan te kon hou. “Dit was ’n spesiale dag”.