Nelson Mandelabaai het dalk gou ’n nuwe koalisie-regering nadat sewe politieke partye ’n historiese koalisie-ooreenkoms onderteken het.
Op Donderdag, 28 Julie 2022, het leiers van die Demokratiese Alliansie (DA), Vryheidsfront Plus (VF Plus), African Christian Democratic Party (ACDP), African Independent Congress (AIC), Abantu Integrity Movement (AIM), Pan Africanist Congress (PAC), en die United Democratic Movement (UDM) ’n ooreenkoms onderteken om ’n nuwe koalisie-regering in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit te vorm.
Vandag se ooreenkoms is die hoogtepunt van byna vier maande se onderhandelinge om ’n nuwe regering in die metro te vorm. Uitgebreide tyd is bestee aan die bespreking van ’n gedeelde stel waardes, beginsels, verbintenisse, doelwitte en prioriteite wat die nuwe koalisie sal volg.
“Die verskriklike toestand van die metro en die dringende behoefte aan ’n verandering in die regering om basiese dienslewering vir die inwoners te verbeter, sal aangespreek word,” lui ’n gesamentlike verklaring deur die politieke partye.
“Die huidige waterkrisis en die swak leierskap rondom die krisis was ’n aanhoudende bedreiging vir die mense van Nelson Mandelabaai wat steeds die dreigende moontlikheid van droë krane oor byna die helfte van die metro in die gesig staar,” sê Norman Silke, DA-woordvoerder in die Oos-Kaap. “Hierdie krisis en ander eis sterk politieke leierskap om die munisipaliteit weg te stuur van die huidige ramp.”
Die politieke partye het erken dat koalisies in Suid-Afrika nooit maklik is nie, en hoewel die konsep nie nuut vir Suid-Afrika is nie, is dit beslis vir die partye belangrik om die lesse uit vorige pogings te leer sodat dit beter maatstawwe vir toekomstige koalisies kan stel.
“Dit is ’n feit dat die toekoms van Suid-Afrika, veral ná 2024, deur koalisies oorheers sal word. Nelson Mandelabaai kan by die talle ander regerings regoor die land aansluit wat die lewende bewys is dat koalisies werk wanneer daar toewyding deur alle spelers is om hulle te laat werk.”
Die volgende stap in hierdie projek sal die indiening van ’n mosie van wantroue (MONC) in die huidige ANC-regering wees. Dié veelpartykoalisie bly vol vertroue dat die mosie sal slaag sodat ’n ommekeer in die metro bewerkstellig kan word. Dit sal ook die nuwe veelpartykoalisie in staat stel om tot die regering toe te tree en hul bestuursplan aan die inwoners van die munisipaliteit voor te lê oor die mees kritieke diensleweringskwessies in die metro.
“Die nuwe veelpartykoalisie is verenig in ons strewe om reg te stel wat gebreek is en hoop wat verlore gegaan het, te herstel.
“Laat dit ‘n keerpunt wees vir die Nelson Mandelabaai-metro waar ’n bekwame koalisie-regering die munisipaliteit kan herbou en dit op ’n nuwe pad kan plaas na ’n beter toekoms vir al die inwoners.”
Die politieke partye het vandag by die Fairview-sportsveld in Nelson Mandelbaai byeengekom om die ooreenkoms te onderteken.
Kyk gerus die toespraak deur die politieke partye hier onder:
Statement-and-coalition-agreement-3