Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, sê hy is moedeloos oor ’n voorval wat op Dinsdag, 26 Julie 2022, plaasgevind het, waar ’n graad 11-leerder van Hoërskool Meyerton in Vereeniging dood is nadat hy per ongeluk deur ’n skoolbus omgery is.
Volgens Lesufi het die voorval Dinsdag om 07:05 plaasgevind toe leerders op die departement se skoolbus geklim het. Daar word berig dat die leerder noodlottig deur die bus getrap is toe hy probeer het om daarop te klim.
Sielkundiges wat ondersteuning bied aan leerders en onderwysers is op Woensdag, 27 Julie 2022, na die skool ontplooi en het traumaberading verskaf aan almal wat deur die voorval geraak is.
Ondersoeke is aan die gang om die omstandighede rondom hierdie voorval vas te stel.
“Na aanleiding van hierdie hartseer voorval het ons met kommer verneem van vervoeronderbrekings van skoolbusse in Sedibeng wat op Woensdag, 27 Julie 2022, begin het. Daar word beweer dat skoolbusse nie toegelaat word om leerders in De Deur, Meyerton, Sharpeville, Rusoord en Panfontein te vervoer nie,” sê Lesufi.
Verdere berigte beweer dat sommige lede van die gemeenskap busse met klippe bestook en bestuurders intimideer, en verhoed dat leerders met die busse vervoer word.
“Ons stuur ons innige meegevoel aan die familie van die leerder wat aan hierdie gru-voorval dood is. Ons veroordeel ook die voortgesette ontwrigting van skoolbusse in Sedibeng wat ook ’n negatiewe impak op die opvoeding van ons leerders het. Ons doen ’n beroep op lede van die gemeenskap om ons leerders toe te laat om skoolbusse dienooreenkomstig te gebruik,” het LUR Lesufi afgesluit.