Oudpresident Jacob Zuma se Thales wapenskandaal-verhoor en sy appèlaansoek teen die uitspraak dat sy vrylating op mediese parool “ongrondwetlik, onwettig en irrasioneel” was, sal in Augustus in die howe in Suid-Afrika voortgesit word.
Die Jacob G. Zuma-stigting het bevestig dat Zuma egter nie Maandag, 1 Augustus, die hofverrigtinge in sy Thales-wapenskandaalsaak sal bywoon nie.
Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales moet Maandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn op 16 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.
In ’n verklaring sê die stigting egter: “Daar is ooreengekom om 1 Augustus 2022 as ’n administratiewe datum te stel om te evalueer en te bevestig of 15 Augustus 2022 haalbaar sou wees as ’n verhoordatum in die Zuma/Thales-saak.”
“Dus, met die opdrag van die hof tydens die laaste verhoor, word daar nie van Zuma verwag om dit by te woon nie.”
Die appèlhof in Bloemfontein sal verder op 15 Augustus ’n aansoek aanhoor oor Zuma se vrylating op mediese parool. Zuma het laasjaar geappelleer teen die besluit van die hooggeregshof dat sy vrylating op mediese parool onwettig was. Die hof het Zuma gelas om sy 15 maande in die tronk uit te dien weens die minagting van die konstitusionele hof.
Zuma het dit as ’n doodsvonnis, weens sy ouderdom en onbekende mediese toestand, beskryf.
Arthur Fraser, die voormalige spioenbaas, het die 80-jarige Zuma op mediese parool vrygelaat voordat hy as die nasionale kommissaris van die korrektiewe dienste bedank het.
Daar word ook verneem dat hofsake sal voortspruit uit die Zondo-kommissie se verdoemende staatskapingsverslag.