Ouers saam met die Skoolbeheerliggaam by die Laerskool Nico Bekker in Williston in die Noord-Kaap het vandag ’n besluit geneem om die skool tydelik te sluit totdat die onderwysdepartement die skool besoek in verband met ernstige infrastruktuuruitdagings.
Dit kom net twee weke nadat Hoërskool Hantam ook sy deure gesluit het, weens veiligheidskwessies as gevolg van die klaskamers wat deur stutte opgehou word.
Nico Bekker sit sedert Maart vanjaar sonder elektrisiteit weens kabeldiefstal by die ou koshuisgebou, van waar die skool sy krag kry. Die koshuis is ’n verlate staatsgebou, oorgelaat aan die genade van diewe en vandale.
“Die skool het gebruik gemaak van ’n kragopwekker teen ’n koste van R400 per dag vir brandstof, wat slegs voldoende is om krag aan ’n sekere deel van die skool te voorsien,” sê Antonico Steenkamp van die Karoo-Hoogland-munisipaliteit. “Die krag is nie voldoende vir toerusting soos die fotostaatmasjien nie. Dit beïnvloed die druk van vraestelle en lesse. Data kan ook nie op rekenaars opgedateer word nie en leerders het nie hul verslae vir die tweede kwartaal ontvang nie. Op bewolkte dae sit leerders ook in donker klaskamers.”
Tagtig skoolvensters is ook gedurende die Junie-vakansie gebreek. Toe die kinders twee weke gelede teruggekeer het skool toe, was hulle aan die koue blootgestel totdat oud-inwoners van Williston saamgestaan het om die herstel van die vensters te borg.


Daarna was daar nog ’n voorval by die skool waardeur klaskamerdeure en slotte gebreek is, wat daartoe gelei het dat die kinders weer huis toe gestuur moes word.
“Daar is geen diefwering en geen sekuriteitswagte by die skool nie, beide gedurende die dag en na-ure, wat die veiligheid van leerders in gevaar stel,” voeg Steenkamp by.
Die skool het die onderwysdepartement herhaaldelik om hulp versoek ten opsigte van die voortslepende vandalisme, skade aan infrastruktuur en om krag te herstel. “Die meeste wat hulle tot dusver ontvang het, was ’n verbintenis wat vandag gegee is, dat die departement die skool tussen die 12de en 17de Augustus sal besoek,” sê Steenkamp. “Hulle is ook ingelig dat die kontrakteur die skool besoek het en Vrydag met die heraansluiting van die elektrisiteitskabels sal begin.”
Terwyl daar ná vier maande se stilte uiteindelik hoop op die horison is, bly die vraag waarom ouers eers die skool moes sluit om een of ander reaksie van die departement te kry.
Volgens Steenkamp skuld die departement die leerders van Nico Bekker ’n belegging in infrastruktuurherstelwerk en sekuriteit. Dit skuld ook alle leerders, ouers en opvoeders ’n verskoning omdat hulle voete gesleep het.
