“Dit was ’n tragiese begin aan Vrouemaand.”
Só het president Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê.
“Verlede week is ons weer gekonfronteer met die donker en lelike kant van ons samelewing,” sê Ramaphosa.
Donderdag is ’n groep mans en vroue wat ’n musiekvideo by ’n ongebruikte myn naby Krugersdorp verfilm het deur gewapende mans aangeval en agt vroue is bendeverkrag.
“Hierdie verskriklike dade van brutaliteit maak inbraak op die reg van vroue en meisies om in vryheid en veiligheid te lewe en te werk,” voeg Ramaphosa by. “Terwyl hulle die verdagtes in dié misdaad agtervolg, moet die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ook onmiddellik aandag gee aan die bekommernisse van die gemeenskap van West Village, waar die voorval plaasgevind het, wat sê hulle is oorval met gewapende bendes in die gebied.”
“Verkragters het geen plek in ons samelewing nie,” sê Ramaphosa. “Ons doen ’n beroep op gemeenskappe om saam met die polisie te werk om te verseker dat hierdie misdadigers aangekeer en vervolg word. Ons gemeenskappe moenie misdadigers in hul midde skuil nie.”
Volgens Ramaphosa is daar altyd iemand wat iets weet, wat iets gehoor het of selfs iets aanskou het.
“Die probleem is dat baie van ons kies om stil te bly omdat die oortreder ’n vriend, ’n familielid of ’n kollega is. Of ons is net bang en vrees viktimisasie. Dit is belangrik om te onthou dat alle wenke wat deur die SAPD se Stopmisdaad-kontaksentrum ontvang word, vertroulik hanteer word.”
Ramaphosa het ’n beroep op enigiemand wat inligting oor hierdie misdaad het om dit by die polisieowerhede aan te meld sodat die oortreders in hegtenis geneem kan word.
84 mense is reeds in hegtenis geneem weens die oortreding van die Immigrasiewet, maar nog niemand is met die verkragting van die vroue verbind nie. 81 verdagtes het vandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn. Die saak is tot Woensdag uitgestel.
“Gegewe die omvang van hierdie probleem in ons land, is dit nie meer moontlik om verantwoordelikheid vir die aanmelding van seksmisdade te vermy nie,” sê Ramaphosa.
“Volgens ’n nuwe wetlike bepaling wat gister, 31 Julie 2022, in werking getree het, het ons almal, benewens ons morele verpligting, nou ’n wetlike plig om aan owerhede te rapporteer wanneer ons kennis, redelike oortuiging of vermoede het dat ’n seksuele misdaad teen ’n kwesbare persoon gepleeg is.”
Dit is nou ’n misdaad om nie so ’n seksuele oortreding aan te meld nie.
Dit is deel van een van drie wette wat Ramaphosa vroeër vanjaar onderteken het wat die stryd teen geslagsgebaseerde geweld (GBV) versterk en groter ondersteuning en beskerming aan oorlewendes bied.
Die wette brei onder meer die omvang van die Nasionale Register van Seksoortreders uit, versterk die keuringsproses en stel bykomende kategorieë van seksoortredings in.
Prosesse is aan die gang om hierdie wette in werking te stel. Dit sluit in die opleiding van aanklaers en landdroste, die uitreiking van voorskrifte oor borgtog aan alle SAPD-amptenare, en die hersiening van klagstate om die nuutgeskepte misdrywe in te sluit.
“Ons is vasbeslote dat al hierdie boustene in plek is sodat ons wetstoepassingsowerhede en howe geslagsgebaseerde geweld meer effektief kan ondersoek en vervolg.
“Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord is ’n diepgewortelde maatskaplike probleem.”
Volgens Ramaphosa is dit nie genoeg dat oortreders aangekeer, verhoor, skuldig bevind en gevonnis word nie.
“Ons moet saamwerk om die drywers van geslagsgebaseerde geweld in ons gemeenskappe aan te spreek, insluitend patriargale houdings en praktyke. Om geslagsgebaseerde geweld uit te roei vereis dat ons as ’n land saam optree.”
Ramaphosa het ’n beroep op landsburgers gedoen om die nasionale poging teen GBV te ondersteun deur vrywillig by ’n skuiling te werk, gemeenskapspolisiëringsforums te ondersteun of by bewusmakingsveldtogte in skole aan te sluit.
“Ons het ’n begin gemaak, maar soos die verskriklike misdade in Krugersdorp ons herinner, moet ons baie meer doen en met groter dringendheid en doelgerigtheid optree.”