Joe Phaahla, minister van gesondheid, het Maandag tydens ’n paneelbespreking in Montreal, Kanada, gepraat oor Suid-Afrika se vordering teen MIV/vigs.
Sedert 2010 het nuwe MIV-infeksies in die land met ’n merkwaardige 45% afgeneem – wat een van die skerpste dalings in MIV-voorkomste in die oostelike en suidelike Afrika-streek verteenwoordig.
Meer as 90% van Suid-Afrikaners ken hul MIV/vigs-status en die land het meer as 5 miljoen mense wat behandeling (ARV’s) ontvang. ARV-behandeling is vir alle MIV-besmette Suid-Afrikaners gratis beskikbaar.
Ondanks suksesse, bly nuwe infeksies hoog in Suid-Afrika (200 000), met meer as 150 adolessente meisies en jong vroue (tussen 15- en 24-jaar) wat daagliks besmet word.
“’n Versterkte fokus op MIV-voorkoming is ’n prioriteit vir ons land om die 2025-voorkomingsteiken van 95% te bereik, en die teiken van minder as 74 000 nuwe infeksies teen 2025,” sê Phaahla.
Daar word beraam dat ’n derde van alle nuwe MIV-infeksies in die land in die ouderdomsgroep van 15-24 jaar voorkom.
Ongeveer 20–25% van die nuwe MIV-infeksies by jong vroue in Suid-Afrika kan toegeskryf word aan geslagsgebaseerde geweld (GBV).
Die nasionale voorkoms van MIV word geskat op 53% onder vroulike sekswerkers, 25,7% onder mans wat met mans seks het, 21% onder dwelmverbruikers, en hoewel daar geen nasionale ramings vir MIV-voorkoms bestaan nie, dui programmatiese gegewens op MIV-positiwiteit tot 49% onder transgender-bevolkings.