Joe Biden, VSA-president, het bevestig dat die land die leier van die terroriste-groep Al-Kaïda in ’n hommeltuigaanval in Afghanistan doodgemaak het.
Die 71-jarige Ayman al-Zawahiri is Sondag dood in ’n teen-terrorisme-klopjag wat deur die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA) in die Afghaanse hoofstad Kaboel uitgevoer is.
Biden het gesê Zawahiri het “’n spoor van moord en geweld teen Amerikaanse burgers gelaat”.
“Nou het geregtigheid geskied en is hierdie terreurleier nie meer hier nie,” het hy bygevoeg.
Zawahiri het die Al-Kaïda-groep oorgeneem ná die dood van Osama Bin Laden in 2011. Hy en Bin Laden het saam die 9/11-aanvalle, waarin 2 996 Amerikaners dood is, beplan.
Amptenare het gesê Zawahiri was op die balkon van sy huis toe die hommeltuig twee missiele op hom afgevuur het.
– NBC, NY Times, BBC